LIMPOPO. – Twee buitelanders is Vrydag met 85 pare Adidas-skoene, vermoedelik afkomstig van ‘n vragmotor wat in September in Putfontein, Gauteng, gekaap is, in hulle besit gearresteer.
Kol. Malesela Ledwaba sê die vragmotor het ‘n vrag skoene ter waarde van miljoene rande op gehad.
Die georganiseerde misdaadondersoekeenheid in Limpopo het saam met ‘n logistieke maatskappy van Gauteng gewerk nadat inligting van die gekaapte vragmotor gekry is. Deursoeking is by ‘n groothandelsupermark in Musina gedoen, wat tot die ontdekking van die 85 pare skoene gelei het. Die verdagtes kon nie ‘n bevredigende antwoord oor die items in hulle besit verskaf nie en is gearresteer.
Die twee verdagtes verskyn vandag in die Musina-landdroshof.





