BELA-BELA, LIMPOPO. – Inwoners het na bewering Saterdag om 16:30 ’n bulhaai in die ou munisipale dam op Bela-Bela gewaar.
Die Pos berig ’n groep vriende het die middag gaan visvang toe hulle ’n vreemde voorwerp in die water gesien het. Hulle het glo gedink dit is ’n baber of krokodil en is terug na hulle motors.
Een besoeker het egter nader gegaan en foto’s geneem. Die vis is na aanleiding van die foto’s glo as ’n bulhaai geklassifiseer.
Daar word bespiegel of die haai self sy weg na die dam gevind het en of moeilikheidmakers die haai in die dam losgelaat het. ’n Bulhaai staan ook as ‘n zambezihaai bekend en word in warm kusgebiede aangetref.
Volgens Die Pos is die insident by die owerhede aangemeld.
Bronne: Die Pos, Facebook





