MPUMALANGA. – ‘n Bus wat Amerkaanse toeriste na die Kruger Nasionale Park vervoer het, het Woensdag tussen Dullstroom en Lydenburg op die R540 gerol. In afsonderlike voorvalle het ‘n bus met skoolleerlinge op die Molotopad gerol en ‘n minibus was op die N4 tussen Emalahleni (Witbank) en Vosman in ‘n trompopbotsing betrokke.
Moeti Mmusi, woordvoerder vir die departement van gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling, sê 18 van die Amerikaanse toeriste het geringe tot ernstige beserings in die ongeluk opgedoen. Altesaam 17 ontvang mediese hulp in ‘n hospitaal in Belfast.
Agt leerlinge het onderweg skool toe in ‘n trompopbotsing op die N4 tussen ‘n minibustaxi en ‘n sedan beserings opgedoen. Een leerling is kritiek. In die ander ongeluk op die R573-Molotopad het nog ‘n bus met leerlinge gerol, waartydens leerlinge geringe beserings opgedoen het.
Motoriste word versoek om weens die weersomstandighede, reën, paaie wat oorstroom en mistigheid, versigtig te ry. Die LUR, Jackie Macie, is diep bekommerd oor die betrokkenheid van skoliervervoer in ongelukke.
“Sonder om redes vir hierdie en ander ongelukke in te sluit, glo ons dat die weer moontlik die oorsaak van die meeste van hierdie ongelukke was. Ons doen dus ‘n beroep op motoriste om ‘n versigtige volgafstand te handhaaf, spoed te verminder en uiters versigtig te wees wanneer hulle in mistige en nat weerstoestande bestuur,” sê Macie.
Hy het voorts ‘n beroep op motoriste gedoen om versigtig te wees vir oorstromings op sommige paaie as gevolg van stormreën.
Wetstoepassingsowerhede en nooddienste is op ‘n hoë gereedheidsgrondslag.





