Buurman kry 4 keer lewenslank vir verkragting van minderjarige kankerlyer

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie

GAUTENG. – ‘n Man (47) van Tsakane is tot vier keer lewenslange tronkstraf deur die plaaslike streekhof gevonnis, nadat hy vir die verkragting van ‘n minderjarige (13) skuldig bevind is. Die meisie was ‘n kankerlyer, het boonop swanger geraak en is met die HIV besmet.

Lumka Mahanjana, NVG-woordvoerder, sê in ‘n verklaring volgens die getuienis het die verkragtingsvoorvalle tussen Desember 2015 en April 2016 op vier verskillende geleenthede plaasgevind toe die kind haar bejaarde ouma besoek het om met huiswerk te help. Die gesinsvriend, wat ook ’n buurman was, het haar na sy huis ontbied, haar verkrag en gedreig om haar dood te maak indien sy iemand sou vertel.

In Oktober 2016, tydens ’n roetinebesoek aan die dokter vir kankerbehandeling, is vasgestel dat die meisie reeds ses maande swanger was en met MIV besmet is. Sy het aan die dokter vertel dat sy deur die gesinsvriend verkrag is. Haar moeder het die voorval by die polisie aangemeld en die man is in November 2016 in hegtenis geneem. Die saak is aanvanklik voorlopig teruggetrek, maar is weer in 2020 op die hofrol geplaas.

In die hof het die beskuldigde onskuldig gepleit en die verkragting ontken. Tholwana Jessica Khakhathiba, die streekhofaanklaer, het egter sy skuld gewys. Sy het tydens vonnisoplegging gevra dat die hof nie van die voorgeskrewe minimumvonnis afwyk nie, aangesien die beskuldigde geen berou getoon het nie en steeds sy onskuld volgehou het. Die hof het bevind dat die verswarende omstandighede swaarder weeg as enige versagtende faktore en dat die beskuldigde wrede misdrywe teen ’n weerlose kind gepleeg het wat reeds aan ’n chroniese siekte gely het.

Die hof het bepaal dat die vonnisse gelyklopend uitgedien moet word. Sy naam word ook op die nasionale register vir seksuele oortreders geplaas en hy is onbevoeg verklaar om met kinders te werk.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief