Die aktrise Carina Nel het vanoggend (Vrydag) gedeel hoe sy voel oor die dubbele mastektomie wat sy vandag ondergaan.
Nel skryf op sosiale media dat die dag swaarder op haar hart lê as wat sy verwag het. Ná ses maande waarin sy week vir week op haar chemoterapie gefokus het, het die emosies rondom die operasie haar onkant gevang. Sy staan steeds vas by haar besluit om albei borste te laat verwyder, maar sê die verlies is moeiliker om te verwerk as wat sy gedink het.
Nel sê haar borste is deel van haar vroulikheid en selfbeeld. Sy het albei haar kinders geborsvoed en sê rekonstruksie neem nie die gevoel van verlies weg nie. Sy put krag uit haar geloof en is dankbaar vir die mense wat haar ondersteun. Wanneer sy later na haar littekens kyk, sê sy, sal dit haar herinner aan wat sy reeds oorkom het en die kanse wat sy gekry het.
“Ek gaan dit die meeste mis om my kinders op te tel en styf vas te druk vir die volgende paar weke!” skryf sy.