Lees ook hier: https://nuusflits.com/geliefde-charley-onderweg-na-aftrede/
LIMPOPO. – Charley (42), die geliefde olifantbul wat ‘n geruime tydjie voorberei is om van die Pretoria Nasionale Dieretuin na sy aftrede by Shambala-privaatwildreservaat in Limpopo te verskuif, pas goed aan.
Charley is soos voorheen berig in Hwange Nasionale Park gebore en het in 1984 deel van die Boswell-sirkus geword. Daar het hy 16 jaar lank gewerk voordat hy na die Pretoria Nasionale Dieretuin verskuif is, waar hy die volgende 23 jaar deurgebring het.
SANBI het in 2023 aangekondig Charley gaan aftree. Die Pro Elephant Network, EMS Foundation en Four PAWS het saam met ander rolspelers seker gemaak Charley tree af waar hy dit verdien. Sy verskuiwing het nou, ten spyte van sy oppassers in Pretoria se hartseer, wel gebeur.
Charley se nuwe tuiste is ‘n massiewe 10 000 hektaar wat bekend is vir hervestiging van olifante in natuurlike habitat.
Tans bring Charley nog tyd in sy aanpassingsarea op die reservaat deur. Hy akklimatiseer, volg ‘n daaglikse roetine en het deurentyd lede van Four Paws by hom, om na hom om te sien.
Soos voorheen berig, kan Charley, indien hy dit sou verkies, by die ander olifante op die reservaat aansluit.
Four Paws maak opdaterings op sosiale media van hoe dit met Charley gaan.
Bron: Four Paws