Brekende Nuus
Gesondheid

Sangeres praat oor verslawing ná tweelingbroer in veld gevind is

Foto: Charlize Berg

Die sangeres Charlize Berg het openlik op sosiale media oor verslawing gepraat nadat haar tweelingbroer, Jaco van der Berg, vermis geraak en later in ’n ernstige toestand in ’n veld gevind is.

Berg het vroeër ’n beroep op die publiek gedoen om te help om Jaco op te spoor nadat hy in die Hartbeespoort/Centurion-gebied vermis geraak het. In ’n nuwe plasing het Berg gesê haar broer is uiteindelik in ’n baie slegte toestand gevind. Dit was koud en reënerig en hy was uitgeput en “baie naby daaraan om nie meer hier te wees nie.”

Jaco het die voorval oorleef en ontvang tans die sorg en hulp wat hy nodig het. Berg het gesê haar broer het net ‘n klein Bybel by hom gehad toe hy gevind is. Sy glo dat God steeds ’n groot roeping op sy lewe het.

Die sangeres het die geleentheid gebruik om aandag op verslawing en die impak daarvan op families te vestig. “Daar is ’n mens agter die verslawing. Daar is ’n familie agter die pyn. Daar is ’n storie wat ander mense nie kan sien nie,” het sy gesê. Sy het mense gevra om minder vinnig te oordeel en eerder genade te betoon aan mense wat met verslawing of geestesgesondheidsuitdagings worstel. Berg het ook ’n boodskap aan families gerig wat saam met ’n geliefde deur verslawing gaan en gesê hulle hoef nie die stryd alleen te dra nie.

“Want selfs wanneer ons nie weet hoe die volgende hoofstuk gaan lyk nie, bly God groter. Hy was gister die Een wat die storie geskryf het. Hy hou vandag steeds die pen vas. En die storie is nog nie klaar geskryf nie.”