Brekende Nuus
Onderwys

Cheslin Kolbe keer terug na Hoërskool Brackenfell voor All Blacks-toets

Cheslin Kolbe het saam met vier ander Springbokke sy alma mater, Hoërskool Brackenfell, besoek in aanloop tot Saterdag se groot toets teen die All Blacks.

Springbok-spelers neem 'n selfie saam met leerders tydens hul besoek aan Hoerskool Brackenfell voor die tweede toets teen die All Blacks
Foto: Johan Maree

Deur Johan Maree

Sowat 1 300 leerders van Hoërskool Brackenfell het Donderdag ’n besonderse verrassing gekry toe vyf Springbok-rugbyspelers die skool besoek het in aanloop tot Saterdag se tweede toets teen die All Blacks by DHL-stadion in Kaapstad.

Vir een van die spelers was die besoek egter ’n terugkeer huis toe. Springbok-vleuel Cheslin Kolbe is ’n oudleerder van Hoërskool Brackenfell en het saam met Herschelle Jantjies, Aphelele Fassi, Jan-Hendrik Wessels en Elrigh Louw by die skool opgedaag.

Skool vier sy 50ste bestaansjaar

Die geleentheid was ekstra spesiaal omdat Hoërskool Brackenfell vanjaar sy 50ste bestaansjaar vier.

Die Springbokke het met die leerders oor meer as net rugby gepraat. Hulle het boodskappe oor harde werk, deursettingsvermöe en die belangrikheid daarvan om geleenthede aan te gryp, met die jongmense gedeel. Die spelers het die leerders aangemoedig om groot te droom en nie toe te laat dat terugslae hulle van hul doelwitte weerhou nie.

Daar was ook groot opgewondenheid toe pryse uitgedeel is, waaronder kaartjies vir Saterdag se toets tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland.

Persoonlike betekenis vir Kolbe

Vir Kolbe het die besoek ’n persoonlike betekenis gehad. Hy kon terugkeer na die skool wat ’n belangrike rol in sy vormingsjare gespeel het en weer van sy voormalige onderwysers ontmoet.

Kolbe het in die verlede self erken dat Hoërskool Brackenfell en die geleenthede wat hy daar gekry het, ’n belangrike rol in sy rugbyloopbaan gespeel het.

Die dubbelwêreldbekerkampioen se terugkeer het ook ’n besondere oomblik vir die skoolgemeenskap geskep: ’n oudleerder wat jare gelede self in dié gange geloop het, het as een van die wêreld se bekendste rugbyspelers teruggekeer.

Vir die leerders was die boodskap eenvoudig – die spelers wat vandag op rugby se grootste verhoë speel, het ook eens in skoolbanke gesit en oor hul toekoms gedroom.

Fokus verskuif nou na Kaapstad

Die Springbokke draf Saterdag weer teen die All Blacks uit in die tweede toets van die Rugby’s Greatest Rivalry-reeks. Nieu-Seeland het die openingstoets by Ellis Park gewen, wat die druk op die tuisspan verhoog.

Kaptein Siya Kolisi is fiks verklaar vir die toets, terwyl sowat 62 000 ondersteuners in Kaapstad verwag word.

Voor daardie botsing het vyf Springbokke Donderdag egter ’n stukkie Bok-gees na Brackenfell gebring.

Foto’s: Johan Maree
Berig: Johan Maree