GAUTENG. – Sewe Chinese burgers is in die Johannesburg-hooggeregshof skuldig bevind aan 158 aanklagte wat dié van mensehandel en oortredings van die arbeidswet en beroepsgesondheid- en veiligheidsregulasies insluit.
Phindi Mjonondwane, woordvoerder vir die NVG, sê Shu-Uei Tsao (42), Biao Ma, Hui Chen (50), Quin Li (56), Zhou Jiaquing (46), Junying Dai (58), Zhilian Zhang (51) en Beautiful City(Pty) Ltd verteenwoordig deur beskuldigde een tot sewe, is skuldig bevind aan die misdade wat in Village Deep gepleeg is.
Die polisie het ‘n wenk ontvang oor ‘n fabriek wat na bewering buitelanders in diens het, waarna ‘n operasie geloods is. Kapt. Modibo en AO Lulama Kona het die ondersoek gelei waarmee bevind is die beskuldigdes wat die besigheid Beautiful City bedryf het, het 91 ongedokumenteerde Malawiërs tussen 2017 en 2019 in diens gehad. Hierdie sluit 16 minderjariges tussen 14 en 16 jaar in.
Die werknemers was aan onmenslike omstandighede onderwerp, hulle was tot klein spasies beperk en is deur gewapende wagte opgepas in ‘n omgewing wat met hoë mure en lemmetjiesdraad toegerus is. Hulle is geforseer om sonder behoorlike opleiding of veiligheidstoerusting skofte van 11 uur, sewe dae ‘n week, te werk, wat tot ongelukke gelei het. Die daaglikse werksure het geen rusperiode ingesluit nie en die werkers moes tydens vakansies werk. Voorts was persoonlike kommunikasie verbied en hulle kon ook nie kos van buite die perseel inbring nie.
Mjonondwane sê ‘n werker het ‘n vinger in ‘n ongeluk verloor en was mediese hulp geweier.
Staatsadv. Valencia Dube het getuies na vore geroep wat aan die hof vertel het hulle is ‘n beter lewe belowe, indien hulle in die fabriek sou werk, wat vals was.
“Regter David Mhango het beslis dat die beskuldigdes aanspreeklik is vir die misdrywe en die staat het daarin geslaag om sy saak bo redelike twyfel te bewys. Die regter het ook aangehaal dat die beskuldigde versuim het om aan Suid-Afrika se arbeidswette te voldoen.”





