INTERNASIONAAL. – Chuck Norris was gewild onder meer as een generasie. As jy in die 1970’s, 80’s en 90’s ‘n fliekvlooi was, het jy hom in sy baie aksiefilms gesien. Later sou hy gewildheid verwerf in TV-reekse soos Walker en Texas Ranger. In 2004 het hy ‘n kameerol vertolk in Dodgeball en in 2012 in The Expendables 2.
Alhoewel hy nie net vir memes en grappies onthou sal word nie, het hy dit geniet en aangemoedig. Nuusflits-lesers het fluks reageer op ‘n uitnodiging om hul gunsteling-Chuck Norris-grappie te deel.
Pieter Terblanche sê Chuck Norris het die hospitaal waarin hy gebore is self gebou. Phillip Heymans sê Aliens sal nou ook aarde toe kom…. hulle was glo te bang vir Chuck. Driekie Fourie sê Chuck is eintlik al 5 jaar gelede oorlede, die dood was te bang om hom te sê. David Naude laat hoor Chuck kon ‘n missed call antwoord. Natacha van Staden sê hy kon ‘n bladsy uit Facebook skeur, terwyl Petro Vermaak laat hoor sy ma het Purity met ‘n vurk gevoer.
Volgens Ina Stuart het Chuck vir sy ouma staalwol gegee, toe brei sy vir hom ‘n Ford Cortina. Marzanne Meyer Nel vra of Chuck weet dat hy dood is, waarop Johan Lubbe antwoord die Grim Reaper was te bang om hom te sê! Marietjie Meyer antwoord dat hy sy eie kis gaan dra. Etienne du Plooy laat hoor sy ma sal môre bel om te sê dat Chuck beter voel.
Gert Bezuidenhout vra: Hoeveel push-ups kon Chuck doen? Almal. Clinton Jr MacCullum: As Chuck push-ups doen, stoot hy nie homself op nie, hy stoot die aarde af. Jacques Louw sê Chuck kon Facebook vanaf ‘n tiekieboks.
Thys Marais laat hoor Chuck het die telefoon geantwoord toe Bell sy eerste oproep gemaak het, en Johan Lubbe sê toe Chuck “val”, toe val die goudprys ook.
En so gaan dit aan, van Afrikaanse sowel as Engelse lesers. Nie net sal grappies oor hom en sy optrede in talle flieks en TV-reekse onthou word nie, maar ook dat hy volgens sy familie ‘n wonderlike, liefdevolle man, pa en oupa was, “die hart van sy familie”, wat met “geloof, doelgerigtheid en met ‘n onwrikbare toewyding aan die mense vir wie hy lief was, geleef het.” Op sy sterfbed, omring deur sy familie, het hy glo nog grappies gemaak om gemoedere te lig.
Bronne: Facebook, SkyNews





