GAUTENG. – Michael Nyambi (24) van Rabie Ridge en Zwelethu Tekete (26) van Braamfischerville, twee kandidate vir die Johannesburg-metropolisiediens (JMPD) het tydens fisieke fiksheidstoetse gesterf.
Rdl. Somomon Maila, die DA se skadulid van die burgemeesterskomitee vir openbare veiligheid in Johannesburg, het ’n dringende vergadering met rdl. dr. Mgcini Tshwaku, die LUR vir openbare veiligheid, gevra om die omstandighede te bespreek wat tot die dood van die twee kandidate gelei het. Hulle was deel van die JMPD se werwingsproses om 500 metropolisiebeamptes vir die 2025/2026- finansiële jaar aan te stel. Die voorvalle het op 28 Augustus en 1 September tydens ’n fisieke fiksheidstoets plaasgevind.
Volgens die DA moet die vergadering nie later nie as Vrydag 19 September 2025 plaasvind. “’n Ondersoek na hul sterftes en veral na wat blyk ’n gebrekkige werwingsproses te wees, moet dringend onderneem word,” sê Maila.
Fluitjieblasers het glo die DA ingelig dat daar onder andere geen ambulans op die toneel was toe die rekrute ineengestort het nie. Die ambulans wat ontbied is, het na bewering twee uur geneem om op te daag. Daar word verder beweer dat die JMPD-afrigters wat die fiksheidstoets gelei het, nie gekwalifiseerd is om sulke assesserings te doen nie.
“Ons sal nie rus totdat daar volle aanspreeklikheid is nie,” het Maila gesê.
Nuusflits het kommentaar van JMPD gevra.
JMPD sê in ‘n sosialemediaplasing die fisiese assessering is op 25 Augustus van stapel gestuur. Volgens die JMPD is duisende aansoekers se fisieke uithouvermoë en fiksheid getoets. Diegene wat fisheidstoetse suksesvol afgelê het, het met die keuringsproses se volgende fase voortgegaan.





