Die Demokratiese Alliansie (DA) het Maandag ‘n kriminele klag teen Oupa Nkoane, die Konstruksie Onderwys- en Opleidingsowerheid (CETA) se administrateur, oor beweerde bedrieglike goedkeuring van sy eie salaris van R3 miljoen per jaar gelê. Dit is ver bo die R500 000 wat Minister Buti Manamela voorgeskryf het.
Karabo Khakhau, DA-adjunk-woordvoerder vir Hoër Onderwys en Opleiding, sê dat Nkoane op ‘n vergadering van die Parlementêre Portefeuljekomitee oor Hoër Onderwys self erken het dat hy sy eie salaris verhoog het. Die DA het video-bewyse van hierdie vergadering, asook die amptelike rekord van die komitee vir ondersoek aan die polisie oorhandig. Volgens die DA het Nkoane doelbewus die bepalings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (WOFB) vir eie gewin oortree. Dit was eers in Januarie 2026 dat Manamela die besluit omgekeer en ‘n pakket van R2,5 miljoen goedgekeur het. As gevolg hiervan het Nkoane tussen Oktober 2025 en Maart 2026 ‘n oorbetaling van R208 333 ontvang.
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het bevestig dat ‘n saak geopen is en dat ‘n ondersoekbeampte aangestel sal word. Die DA eis ‘n volledige kriminele ondersoek en dringende stappe om enige verlore openbare fondse te verhaal.





