DA ontbloot mislukte Noord-Kaapse grondhervormingsprojek

Lees ook :

DA ontbloot mislukte Noord-Kaapse grondhervormingsprojek
DA ontbloot mislukte Noord-Kaapse grondhervormingsprojek fotokrediet: Verskaf

*PERSVERKLARING

Die Demokratiese Alliansie (DA) het ‘n versoek aan die Noord-Kaapse departement van landbou gerig vir ‘n volledige verslag oor die ineenstorting van die Emthanjeni-hidroponika-koöperasie.

Dr. Isak Fritz, LPW, het gesê: “Gedurende ‘n DA oorsiginspeksie op die terrein van die koöperasie is bevind dat nét gestroopte tonnels en die dop van ‘n gebou van dié projek oorbly. Dit dui op nóg ‘n mislukte Noord-Kaapse grondhervormingsprojek. Die DA se oorsig het gevolg op berigte dat toerusting, implemente, sinkplate en pale van die projekterrein weggedra word.”

“Die projek, wat op munisipale meentgrond gevestig is, is al vir meer as ‘n dekade, af en toe, aan die gang. In 2013 is daar berig dat die projek 10 begunstigdes gehad het en 21 werksgeleenthede geskep het. Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het sowat R13 miljoen bestee vir die bou van die 50 x 20m hidropsie-tonnel, die installering van ‘n sonpaneel, ‘n kragopwekker, ‘n verpakkingsfasiliteit, ‘n koelvragmotor, kantoorspasie, mentorskapprogramme, en arbeid. Teen daardie tyd het die projek ook ‘n brief van ‘n groot maatskappy ontvang van hul voorneme om besigheid met die koöperasie te doen.”

“Die projek is gemik op die vervaardiging van kersie-, pruim- en skemerkelkie-tamaties. Dit is seremonieel deur die voormalige LUR van Landbou, Norman Shushu, in Maart 2014 geloods. In 2018 is berig dat die projek een van die provinsie se top vyf hidroponika-ondernemings is. Die departement van landbou was vol vertroue dat hul R18 miljoen-belegging deur die bou van die tonnels, pakhuis en kantoorfasiliteite ‘n uitgebreide kliëntebasis sou ontsluit.”

“Dit is onseker wat die afgelope vyf jaar gebeur het. Die DA het ‘n uiteensetting van die totale regeringsbeleggings in hierdie projek sedert sy ontstaan versoek, asook ‘n volledige ontleding van hoekom hierdie projek in duie gestort het.”

“In ‘n tyd waarin werkloosheid toeneem en armoede wydverspreid is, kan ons nie aanvaar dat miljoene rande in grondhervormingsprojekte gepomp word net vir die projekte om plat te val, werksverliese te veroorsaak en beperkte hulpbronne te verspil nie. Die ANC-regering moet verantwoordbaar gehou word vir grondhervormingsmislukkings soos dié.”

“Dit is tyd om die Noord-Kaap te red van armoede en ongelykheid wat vererger word deur mislukte grondhervormingsprojekte. Die DA is ten volle daartoe verbind om die ongeregtighede van die verlede deur grondhervorming reg te stel op ‘n manier wat opkomende boere werklik bemagtig en die ekonomie versterk.”

*PERSVERKLARING

Lees ook: Uitleweringsaansoek ingedien vir AKA-moordverdagtes in Eswatini

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief