GAUTENG. – Die departement van gesondheid in die provinsie het tans uitstaande skuld van R4,57 miljard aan pasiëntfooie, waarvan R1,8 miljard van ander staatsdepartemente en agentskappe kom. Selfbetalende pasiente skuld R2,63 miljard, met die groot meerderheid van die skuld van buitelandse pasiente.
Dr. Jack Bloom MPL, die DA se skadu-LUR in Gauteng, sê in ‘n verklaring dit is skandalig dat staatsdepartemente nie hulle rekeninge betaal nie. Onder die departemente en agentskappe wat skuld, is die padongelukkefonds met R1,6 miljard, die departement van justisie met R89 miljoen, die departement van korrektiewe dienste met R49,9 miljoen, die polisiediens met R34,5 miljoen, die vergoedingfonds met R31,6 miljoen en die Noordwes-provinsie met R19,3 miljoen. Die departement sukkel selfs om R84 miljoen van private mediese fondsversekerings in te vorder, waarvan die meeste van die skuld ouer is as ses maande, wat invordering baie moeiliker maak. Hierdie finansiële druk veroorsaak dat kritieke poste nie gevul kan word nie, masjinerie nie herstel kan word nie en verskaffers nie betyds betaal word nie.
Bloom sê die probleem met buitelandse pasiënte moet die nasionale regering aanspoor om bindende reëlings met buurlande te tref sodat hospitaalrekeninge van hul burgers betaal word. Hy doen ‘n beroep op die Gauteng-departement van gesondheid om hulle faktuursisteem te verbeter en meer aggressief op te tree teen staatsdepartemente wat nie betaal nie, sodat alle skuld geïn kan word en gebruik kan word om pasiëntediens te verbeter.




