NOORD-KAAP. – Die DA vra vir ‘n gesamentlike plan om seksuele misdrywe teen kinders in die Noord-Kaap te bekamp. Die provinsiale departement van maatskaplike ontwikkeling het die afgelope vyf jaar 413 gevalle van beweerde seksuele misbruik van kinders jonger as 18 jaar hanteer.
Altesaam 428 Vorm 22-verslae is aan die polisie voorgelê. Volgens die party sluit dit 67 sake in wat gedurende die 2025/26-boekjaar aangemeld is en is dit kommerwekkend dat slegs 15 sake tans voor die Kinderhof dien.
Karen Jooste, die DA se provinsiale woordvoerder oor maatskaplike ontwikkeling, sê dit is onvoldoende om skuldigbevindings te verseker en oortreders uit die gemeenskap te verwyder. Die party het versoek dat rolspelers uit die gesondheids-, maatskaplike ontwikkeling-, onderwys- en veiligheidssektore saam vergader om tekortkominge in die gebruik van Vorm 22 te bespreek. Vorm 22 word ingevolge die Kinderwet gebruik om vermoedelike gevalle van statutêre verkragting by die relevante owerhede aan te meld.
Jooste sê die onlangse saak in Vioolsdrift, waar ‘n kind se opmerking aan haar skoolhoof gelei het tot die ontmaskering van ernstige seksuele misdrywe teen kinders, beklemtoon hoe belangrik dié verslagdoeningsproses is. Sy het die betrokkenes geloof nadat die oortreder in dié saak skuldig bevind is.
Jooste beklemtoon dat doeltreffende stelsels nie net op papier moet bestaan nie, maar ook in die praktyk moet werk om slagoffers te beskerm en te verseker dat oortreders suksesvol vervolg word. Die party sê hy sal voortgaan om die situasie te monitor en saam met alle rolspelers te werk om geregtigheid vir slagoffers van kinderverkragting te bevorder.





