Die DA het gevra dat genl. Fannie Masemola, die nasionale polisiekommissaris, voorlopig geskors moet word omdat hy glo deur strafregtelike aanklagte in die gesig gestaar word oor die omstrede R360 miljoen-tender. Daar is reeds ‘n lasbrief bedien en Masemola sal na verwagting op 21 April in die hof verskyn. President Cyril Ramaphosa het te kenne gegee dat hy kennis dra van die aanklagte teen die generaal. Firoz Cachalia, die waarnemende polisieminister, sê glo dat die aanklagte nie uit korrupsie voortspruit nie.
Lisa Schickerling, DA-woordvoerder, sê die saak hou verband met beweerde onreëlmatighede en moontlike oortredings van finansiële wetgewing. Nog ’n senior polisiebeampte kan glo ook aangekla word. Die party sê Masemola moet, soos met ander voor hom, geskors word vir die tydperk wat die saak in die hof voorkom. Hulle is van mening die saak wek ernstige kommer oor korrupsie binne die polisie en ondermyn vertroue in die SAPD. Die party beklemtoon dat niemand bo die reg is nie en dat optrede nodig is om die integriteit van die polisie te herstel.
President Cyril Ramaphosa het volgens ‘n verklaring van Vincent Magwenya, presidensiële woordvoerder, kennis geneem van die nasionale vervolgingsgesag se bevestiging van aanklagte teen genl. Fannie Masemola, die nasionale polisiekommissaris, asook sy komende hofverskyning. Die president het ook verwys na die inhegtenisneming van 12 senior polisiebeamptes in verband met ’n tenderaangeleentheid. Ramaphosa sê die saak sal volgens die wet hanteer word en dat hy saam met die minister van polisie sal werk om stabiliteit binne die SAPD te verseker sodat die diens sy mandaat kan voortsit.
Volgens berigte het Cachalia bevestig dat Masemola nie van korrupsie aangekla word nie, maar eerder van oortredings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (PFMA). Masemola bly intussen in sy pos.
Daar is nie ‘n formele verklaring deur die SAPD of die minister van polisie se kantoor uitgereik nie.
Druk hier om meer te lees oor wat die DA sê. Druk ook hier om te lees wat president Ramaphosa sê.
Bronne: celebgossip.co.za, eNCANews, IOL






One Response
ykmebi