LIMPOPO. – In wat as ‘n groot deurbraak bestempel is, het die polisie Vrydag dagga ter waarde van R15 m. in ‘n vragmotor in Northam onderskep. ‘n Verdagte (35) is gearresteer en word deur aanklagte van dwelmhandel in die gesig gestaar.
Brig. Hlulani Mashaba sê Northam-speurders het omstreeks 21:00 inligting van ‘n vragmotor, wat op die R511-Britspad onderweg is na Zambië, ontvang. ‘n Operasie is deur sigbare polisiëring, die GPF en landelike veiligheidseenhede geloods en ‘n observasiespan strategies by die T-aansluiting van die Brits/Northampad opgestel. Die vragmotor is opgemerk en voorgekeer. Tydens deursoeking is 44 bale saamgeperste dagga gevind. Die totale waarde van die besending is op R15 840 000 geskat.
Mashaba sê die verdagte is gearresteer en die vragmotor en dagga gekonfiskeer. Die verdagte sal Maandag in die Northam-landdroshof verskyn.







