KIMBERLEY. – Johan Smit van die Vryheidsfront Plus was vanmiddag by die reservoir en watersuiweringsaanleg by Riverton en sê die damme is almal leeg.
“Ek het omstreeks 16:45 na die watersuiwering-aanleg by Riverton gegaan. Daar is twee waterpyplyne wat water aan Kimberley verskaf vanaf Riverton, waar die watersuiwering vir Kimberley uit die Vaalrivier gedoen word. Daar is ’n baie ou 600 mm- en ’n effe nuwe 900 mm pyplyn.
“Daar word opgraderings gedoen aan die watersuiwering aanleg en die konneksie vanaf die nuwe aanleg moet nou aan die bestaande 600 pyplyn na Kimberley gemaak word. Dit is by die konneksie waar daar nou die probleem is. Die kontrakteur moet nou ‘n T-konneksie, twee pype uit die aanleg, aan die 600 pyp koppel. Sodra dit afgehandel is, moet daar sement om die T-las gegooi word om alles stabiel te hou sodat daar nie beweging in daardie area is as die water begin vloei en die druk in die pyp begin toeneem nie,” sê hy.
Hy sê hierdie pypwerk moet vanaand afgehandel word, sodat die sement môre deur die voormiddag gegooi kan word. “Die sement moet dan eers hard word, voordat die water deur die pyp na Kimberley gepomp kan word.
Daar word gepoog om teen Sondag water deur die 600 mm pyp te kan sit as niks verkeerd loop nie.Daar word nou op hierdie oomblik water deur die 900 mm pyplyn na die Newton Reservoir gepomp.
Roodepan en gedeeltes van Galeshewe kry direk water uit die 900 pyplyn.
Johan sê uit vorige ondervinding wil hy glo dat daar nie vanaand water in die krane in Kimberley sal wees nie. “Ek wil ook glo dat môre ook dieselfde sal wees. Ek wil glo dat van die laagliggende gedeeltes soos gedeeltes van Hillcrest en Hadisonpark, môre teen laatmiddag lae druk water in hulle krane kan begin kry.
“Almal sal voorsiening vir drinkwater moet begin maak, maar ander water kan ‘n probleem wees soos vir stort, skottelgoed en toilette.”
Hy sê daar word op hierdie oomblik water deur die 900 mm pyplyn na die Newton Reservoir gepomp.