Daniel Smit pleit skuldig in moordsaak van Jerobejin van Wyk – só is die seun vermoor

Lees ook :

Foto: NVG en op lêer

WES-KAAP. – Daniel Hugo Smit, die verdagte in die moord op Jerobejin van Wyk (13), het Maandag op al vyf aanklagte teen hom skuldig gepleit en sal volgende week sy lot in die hof aanhoor. Die aanklagte sluit roekelose en/of nalatige bestuur, ontvoering, moord, lykskending en regsverydeling in.

Volgens Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het Smit ook ‘n volledige pleitverklaring afgelê waarin hy skuld erken het vir die gebeure. Hy het erken dat hy die seun, wat vir hom weggehardloop het en glo getart het na beweerde vrugtediefstal op 2 Februarie 2022 deur hom en ‘n maat, eers met sy voertuig raakgery het voordat hy hom ontvoer en vermoor het.

By sy huis in Matzikamastraat 19 het hy in die motorhuis parkeer en die deur toegemaak. Jerobejin, wat regop gesit het, is beveel om kombuis toe te gaan. Smit was steeds kwaad, maar omdat die seun bang gelyk het, het hy vir hom ‘n toebroodjie en koeldrank gegee.

Smit het verduidelik sy betrokkenheid by okkultiese rituele en satanisme tydens sy weermagdae het ‘n invloed op sy optrede gehad. Hy het na die etende seun geloop en sy nek met ‘n vinnige beweging gebreek. Smit sê die aksie was nie met voorbedagte rade uitgevoer nie. Hy het geweet Jerobejin was dood en sy liggaam moes weggesteek word, aangesien sy dogter agter ‘n geslote deur in die huis klas gegee het. Sy moes nie die seun se liggaam sien nie, daarom het hy Jerobejin se liggaam in die vrieskas gesit.

Smit het sy dogter, wat olik gevoel het, met slaappille bed toe gestuur en met teerpale ‘n vuur in die vuurherd gemaak. Hy het in die okkulte geleer so ‘n vuur word so warm soos ‘n verassingsoond. Smit het Jerobejin se liggaam daarna uit die vrieskas gehaal en dit geskend en verbrand. Dele wat nie gebrand het nie, is in ‘n blou drom en in die drein gesit.

Volgens Smit het hy daarna alleen en gevoelloos gevoel en het ‘n lang tyd op die stoep deurgebring. Hy het die okkulte in 2000 gelos toe sy seun gebore is en hy glo gevra is om sy seun te offer. Hy het besef hy het onbewustelik teruggekeer na die donker praktyke toe hy Jerobejin vermoor het.

Die aand het die polisie vir Jerobejin kom soek en Smit het gesê hy is vort nadat hy hom kos gegee het. Hy het regsverydeling erken. Smit het met die inhoud en akkuraatheid van die verslag van die nadoodse ondersoek, wat op 1 Desember 2022 deur dr. B Swiegelaar gedoen is, saamgestem.

Smit is die dag na die moord op ‘n aanvanklike aanklag van ontvoering gearresteer. Toe hy op 7 Februarie in die hof voorkom, is verskeie aanklagte bygevoeg.

Smit het egter aan die polisie vertel hy het die oorledene by sy huis kos gegee, waarna hy glo verdwyn het. Menslike oorskot is later deur die polisie in ‘n drein op Smit se erf gevind, wat deur DNS-toetse aan die oorlede seun verbind is.

Smit was vir waarneming na die Valkenberg Psigiatriese Hospitaal verwys waar hy geskik verklaar is om verhoor te word.

Foto: NVG

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief