“Dapper vegter” ondergaan breinoperasie

Lees ook :

KIMBERLEY. – Arno Laatz (12) ’n leerder aan Laerskool Newton, het vroeër vanjaar ’n breinoperasie ondergaan om ’n gewas so groot soos ‘n oogbal te verwyder.

Adri du Preez, Arno se ma, het hulle moeilikste en onsekerste tyd met FiND iT gedeel.

Sy sê sy het einde Mei agtergekom Arno tree snaaks op. “Hy sal vir ’n paar oomblikke in sy eie wêreld wees en glad nie reageer nie. Hy sal ook goed uit sy hand laat val. Ons het dadelik werk daarvan gemaak en dr. Holroyd besoek.

Dr. Holroyd

“Dr. Holroyd het gesê dit wat ek aan hom verduidelik, klink soos petit mal-epilepsie, wat ’n vorm van epilepsie is wat meesal net by kinders voorkom. Dit het hom egter gepla dat Arno op 12-jarige ouderdom ewe skielik simptome daarvan getoon het. Arno moes toe vir bloedtoetse en ’n EEG-skandering gaan.”

Sy sê tydens die EEG-skandering het hy weer een van die “aanvalle” gekry en daar is toe gesê Arno het ’n afwyking in sy regterbrein. Die bloedtoetse het normaal vertoon.

Dit het vir dr. Holroyd gepla dat Arno ’n afwyking in sy brein het en hy het gesê hulle moet dadelik ’n MRI-skandering laat doen. “Ons het op 30 of 31 Mei die MRI-skandering laat doen, waartydens opgelet is daar is iets in sy brein. Hulle het toe kleurstowwe ingespuit en ’n tweede MRI gedoen, wat die gewas in Arno se regterbrein gewys het. Die gewas was die grootte van ’n oogbal.

Dr. Basson

“Dr. Holroyd het voor hy weer met ons gepraat het, met dr. Justin Basson, ’n neurochirurg van Bloemfontein, gepraat. Dr. Basson is net op Donderdae in Kimberley, maar hy het ons dadelik ingedruk om ons te sien en na die skanderings te kyk.”

Dr. Basson het bevestig daar is wel iets op Arno se brein en dat hy geopereer moes word.

Arno is op 10 Junie 2019 in ’n privaathospitaal in Bloemfontein opgeneem en was vir twee dae op ’n drup om sy immuunstelsel te boost. Hy is op 12 Junie 2019 geopereer.

Operasie

Adri sê die dokters het hulle voorberei vir alles wat moontlik kon gebeur tydens die operasie wat tussen ses en agt uur kon duur. “Na net oor die vyf ure is Arno uit die teater gestoot. Die dokter het gesê die operasie het wonderlik afgeloop en hulle kon die hele gewas verwyder.

“Ek het by die intensiewesorg-eenheid ingestap en toe Arno vir my sê ‘Mamma’, het ek geweet my kind gaan orraait wees.”

Arno is na vyf dae in die hospitaal ontslaan met geen newe-effekte nie. Rehabilitasie was ook nie nodig nie.

Adri sê Arno het geëet en gespeel en gehardloop asof hy nie ’n operasie ondergaan het nie.

Sport

Arno mag egter nie meer rugby speel nie, alhoewel dit sy gunstelingsport is en hy baie lief is daarvoor. “Hy mag ook vir die res van die jaar geen kontaksport speel nie, want ’n geringe stamp op sy kop kan bloeding op sy brein veroorsaak.

Bestraling

“Hy het verlede week vir nog ’n skandering gegaan toe ’n klein wit kolletjie op sy brein gesien is. Die dokter sê dit lyk nie vir hom soos selletjies nie, maar om veilig te wees moet Arno vir bestraling in Pretoria of Kaapstad gaan. Die dokter is verder baie tevrede.

“Ons het ook uitgevind die gewas wat verwyder is, is ’n graad twee gewas, wat nie ’n kankergewas is nie. Dit kon egter baie vinnig in ’n kankergewas verander het. Arno het sedertdien nog geen ‘aanvalle’ gekry nie.”

Bystand en ondersteuning

Adri sê hulle lewens het in ’n kort tydjie onherroeplik verander en hulle kan nie genoeg dankie sê aan hulle familie en vriende nie. “Hulle het ons ongelooflik bygestaan en ondersteun. Vriende het ’n Facebook-blad vir Arno gestig met die naam Arno’s Journey, waar gereeld inligting oor Arno gedeel is. Dr. Holroyd was amazing. Ons het ondersteuning gekry van mense wat ons nie eers geken het nie. Elke oproep en boodskap het so baie vir ons beteken. Die Here het ons werklik deur hierdie tyd gedra.

Dapper vegter

Adri beskryf haar seun as ’n wonderlike klein vegtertjie. “Hy kla nie en wil net speel. Hy was bang, maar hy was baie dapper.

Sy sê Arno het gisteroggend sy oupa aan die dood afgestaan, dus is dit vir Arno nou ’n baie moeilike tyd. “Sy oupa het ’n baie aggressiewe vorm van kanker gehad.”

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief