Deurbraak in saak van vermiste vroue, een dood aangetref

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie Canva

WES-KAAP. – Thembalethu-polisie het ‘n deurbraak in die soektog na twee vermiste vroue gemaak. ‘n Vrou (61) is dood aangetref en haar dogter (23) is met beserings in ‘n mediese fasiliteit gekry. Nog ‘n vrou (23) wat glo deur dieselfde verdagtes geteiken is, het na vore gekom.

Vier verdagtes is op aanklagte van ontvoering en moord in hegtenis geneem.

Sers. Christopher Spies sê die ma en dogter is na bewering Vrydag uit ‘n huis in Sone 3 in ‘n bakkie inforseer. Hulle is Saterdag as vermis aangemeld en ‘n soektog is geloods. Sondag is die dogter met verskeie beserings in ‘n mediese fasiliteit op George aangetref.

Tydens die soektog het nog ‘n 23-jarige vrou na vore gekom en gesê sy is glo deur dieselfde verdagtes aangerand, maar kon daarin slaag om te ontsnap. Met verdere ondersoek is op die ouer vrou se liggaam in bosse naby Pacaltsdorp afgekom. ‘n Nadoodse ondersoek sal die oorsaak van haar dood vasstel.

Spies sê volgens vermoede is die drie slagoffers in ‘n kroeg in Sone 3, in Thebalethu, aangerand.

Die vier verdagtes verskyn Dinsdag in die Thembalethu-landdroshof. Die ondersoek duur voort en Spies sê die moontlikheid dat meer klagtes bygevoeg kan word, is nie uitgesluit nie.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief