KWAZULU-NATAL. – Shelly Beach-hospitaal het onlangs ’n baanbrekende mediese prosedure suksesvol uitgevoer wat ’n nuwe hoofstuk vir gesondheidsorg in dié streek van die Suidkus inlui.
Volgens ‘n sosialemediaplasing van die hospitaal is hierdie verwydering van ’n pituïtêre gewas sonder snywonde (endoscopic endonasal transsphenoidal pituitary tumour resection) uitgevoer deur dr. Nxakama, ‘n neurochirurg, dr. Sigonya, ‘n ENT-chirurg en dr. Malleck, ‘n narkotiseur.
Dit is die eerste keer dat so ‘n prosedure – die verwydering van ’n breingewas sonder enige uitwendige snywonde- plaaslik uitgevoer is. Die hospitaal sê dié prestasie dui op ’n nuwe era van wêreldklas mediese sorg wat nou nader aan gemeenskappe beskikbaar is, sonder dat pasiënte ver hoef te reis. Die publiek word aangemoedig om saam hierdie mylpaal vir die Suidkus en omliggende gebiede te vier.





