OUDTSHOORN, WES-KAAP. – Die jaarlikse Klein Karoo Nasionale Kunstefees begin môre op Oudtshoorn. Dit sal tot 31 Maart duur.
Besoekers kan uitsien na die feesmark waar kaartjies tot 23 Maart R100 sal kos. Daarna sal dit R120 per dag kos. Kaartjies vir kinders tussen 7 en 13 jaar is R30. Toegang vir kinders onder die ouderdom van 7 is gratis.
Die KKNK-organiseerders beskryf die fees as volg: “Vitamien drama vir hernude lewenslus. Proesstroop vir lagspiere. Musiekmoetie vir jeukvoete. Dansdoepa vir beweeg. Multi-pret vir die kleinspan. Samesyn vir smulpape. ’n Kuur vir elke kwaal.”
Sangers soos Refentse, Corlea, Jay en Chris Steyn gaan op die Feesmark-musiekverhoog te sien wees. Drama-liefhebbers kan uitsien na ’n verskeidenheid toneelstukke. Daar gaan besprekings oor aktuele kwessies wees en selfs vir die jongklomp voorgelees word.
Besoek hulle webtuiste vir meer inligting oor die volledige program.
Bronne: KKNK, Facebook





