Brekende Nuus
Nuus

KwaThema-vrou wat dood gevind is, geïdentifiseer

Foto: SAPD

GAUTENG. – Die vrou wie se liggaam langs ’n pad in KwaThema, Springs, gevind is, is as die 38-jarige Dineo Evelyn Motapane geïdentifiseer. Sy is die derde van agt moordslagoffers wat positief geïdentifiseer is.

Brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, sê Motapane se familie het haar liggaam Woensdagmiddag by die Springs-lykshuis positief geïdentifiseer. Volgens die familie is Motapane Sondag vir die laaste keer lewend gesien. Haar familie het haar egter nog nie as vermis aangemeld teen die tyd dat haar liggaam gevind is nie. Lt.genl. Puleng Dimpane, die waarnemende nasionale polisiekommissaris, het haar medelye aan die Motapane-familie betuig.

Mathe sê ondersoeke na die moorde op die agt vroue in die gebied word verskerp. ’n Multidissiplinêre span ondersoekers en spesialiste werk volgens die polisie aan die sake om die omstandighede van elke moord vas te stel, die verantwoordelikes te identifiseer en hulle voor die gereg te bring.