Dit is die seisoen – toename in Influensa A wek kommer

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie

Gesondheidspraktisyns meld ’n merkbare toename in gevalle van Influensa A oor die afgelope paar weke, met bevestiging deur middel van vinnige nasofaringeale (NP) toetse. Kenners waarsku dat dit nie bloot ’n gewone verkoue is nie, maar ’n virus wat mense vinnig ernstig siek kan maak en maklik in huishoudings, skole, werksplekke en kerke versprei.

Dr. Elri du Preez sê volgens NIOS het Suid-Afrika se 2026-griepseisoen reeds in die week van 9 Maart begin, wat vroeër as gewoonlik is. Influensa A-stamme soos A(H1N1) en A(H3N2) is tans van die virusse wat in die land sirkuleer.

Influensa A begin dikwels skielik, waar ’n persoon soggens nog gesond voel en teen die middag erg siek is. Tipiese simptome sluit hoë koors, kouekoors, erge lyfseer, hoofpyn, ’n seer keel, droë hoes en uiterste moegheid in. Naarheid en braking kom veral by kinders voor. Baie pasiënte beskryf die siekte as iets wat hulle “skielik plat slaan”. Hoewel die meeste mense binne drie tot sewe dae herstel, kan simptome soos moegheid en hoes langer aanhou. Die NICD waarsku egter dat griep in sekere gevalle ernstig kan raak en selfs hospitalisasie kan vereis. Dringende mediese hulp word aanbeveel indien simptome soos benoudheid, vinnige asemhaling, blouerige lippe, borskaspyn, aanhoudende braking, tekens van dehidrasie, verwarring of stuiptrekkings voorkom. Ouers word ook gewaarsku om op te let vir babas wat swak drink of kinders wat ongewoon slaperig raak.

Sekere persone het ’n hoër risiko vir komplikasies, soos babas en jong kinders, swanger vroue, persone ouer as 65 jaar, asook mense met onderliggende toestande soos asma, long- of hartsiektes, diabetes of ’n verswakte immuunstelsel. Om verspreiding te beperk, word mense aangeraai om tuis te bly wanneer hulle siek is, gereeld hande te was, in hul elmboog te hoes en nie eetgerei of drinkhouers te deel nie. Die griepinenting bly ’n belangrike beskermingsmaatreël, veral vir hoërisikogroepe.

Behandeling bestaan hoofsaaklik uit rus, voldoende vloeistofinname en die beheer van simptome. Antibiotika is nie doeltreffend teen die virus self nie, maar kan nodig wees indien ’n sekondêre bakteriële infeksie ontwikkel. Antivirale medikasie soos oseltamivir kan in sekere gevalle help, veral as dit vroeg in die verloop van die siekte toegedien word.

Druk hier om meer te lees.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief