KWAZULU-NATAL. – Mnikelwa Nxele, die geskorste streekskommissaris van die departement van korrektiewe dienste (DKD) in KZN, het Woensdag op aanklagte van bedrog en geldwassery in die Pietermaritzburg-landdroshof verskyn.
Henry Mamothame, NVG-woordvoerder van die ondersoekdirektoraat teen korrupsie (Idac), sê Nxele is in hegtenis geneem ná ‘n verwysing deur die Valke. Die ondersoek het gespruit uit getuienis wat Angelo Agrizzi aan die staatskaping-kommissie verskaf het. Dit het betrekking tot Bosasa-kontrakte ter waarde van ongeveer R20 miljoen.
Volgens die aanklagte is Nxele omgekoop met sowat R100 000 per maand terwyl hy as voorsitter van die spesiale tenderaanpassingskomitee in KwaZulu-Natal gedien het. Daar word ook beweer dat hy bedrieglike finansiële transaksies deur ‘n trust, Zogoba Trust, wat hy self geregistreer het, uitgevoer het om die beweging van geld en bates wat deur kriminele aktiwiteite bekom is, te verberg. Die geld is na bewering gebruik om eiendomme te koop en by verskeie casino’s regoor die land te dobbel. Hy word verder daarvan beskuldig dat hy nagelaat het om sy finansiële belange aan die departement van staatsdiens en administrasie (DPSA) te openbaar.
Die hof het sy saak tot 16 September uitgestel om die nasionale direkteur van openbare vervolging se kantoor die kans te gee om ‘n sentralisasiesertifikaat-aansoek te oorweeg. Nxele is op R50,000 borgtog vrygelaat, onderhewig aan streng voorwaardes.
Die departement van korrektiewe dienste het in ‘n afsonderlike verklaring bevestig dat hulle van Nxele se hofverskyning kennis geneem het, en het beklemtoon dat die regsproses sonder vooroordeel sal voortgaan. Nxele bly geskors en die departement sal voortgaan met interne dissiplinêre prosesse in lyn met toepaslike wetgewing en beleid.






