GAUTENG. – Die departement van gesondheid in die provinsie sê 12 leerlinge het Maandag tydens ‘n ongeluk in Vanderbijlpark gesterf, soos aanvanklik berig. Die bestuurder van die voertuig is intussen deur die polisie in hegtenis geneem. Nog leerlinge ontvang mediese behandeling in hospitale.
Die bestuurder (22) van die skoliervervoer is in hegtenis geneem nadat hy uit die hospitaal ontslaan is. Die vragmotorbestuurder het geen beserings opgedoen nie, terwyl sy passasier ook mediese behandeling in ‘n hospitaal ontvang.
Luidens ‘n verklaring van die polisiewoordvoerder, lt.kol. Mavela Masondo, sal die bestuurder van die skoliervervoer Maandag op 12 aanklagte van strafbare manslag en rekelose en nalatige bestuur in die Vanderbijlpark-landdroshof voorkom. Ná ondersoeke by hospitale en die lykshuis het Masondo bevestig 12 leerlinge is oorlede en vyf is vir behandeling na hospitale geneem, van wie een reeds ontslaan is. Ondersoeke duur voort terwyl die polisie steeds ooggetuies se verklarings bekom.







