OOS-KAAP. – Die dodetal weens die kitsvloede wat gedeeltes van Nelson Mandelabaai in die provinsie Sondag 2 Junie getref het, het tot 10 gestyg.
Kol. Priscilla Naidu sê die liggaam van ‘n vrou wat tydens die vloede in Kariega vermis geraak het, is Sondag op die Swartkopsrivier se bank in Cuylerstraat gevind. Die oorledene was saam met haar vriend in ‘n motor wat op 1 Junie weggespoel het. Die voertuig is onder die water gevind.
Dossiere vir geregtelike doodsondersoeke is vir al die oorledenes van die vloede geopen.
Ander sterftes is in Kwanobuhle, Kariega, Walmer, Blue Horizan Bay en Kamesh aangemeld.
Daar word steeds na vermiste persone gesoek.
Nuusflits het voorheen soos volg berig:
Die name van slagoffers wat sedert Sondag in die Nelson Mandelabaai-metro as gevolg van vloede omgekom het, is bekendgemaak.
Kapt. Sandra Janse van Rensburg sê die storms en hewige reën het skade in Kwanobuhle, Kariega, Walmer, Blue Horizon Bay en Kamesh teweeggebring.
Alutha Brown (4), Ndumiso Booysen (41), Tamsanqa Plaatjies (62) en Thandixolo Jonas (46) het in Kwanobuhle omgekom, terwyl Abronita Adams (18) in Kamesh gesterf het. Clive Noah (72) het in Kariega en Sicelo Lusipho (32) in Walmer hulle lewens verloor.
Van Rensburg sê die liggaam van ‘n vrou wat Sondag in die Rocklands-area (Kabegapark) vermis geraak het, is vanmiddag omstreeks 13:00 deur die honde-eenheid, asook die redding-en-duikeenheid in die Brakrivier in Rocklands gevind. Haar naasbestaandes moet nog verwittig word.
Geregtelike doodsondersoeke is vir al die sterftes geopen.
Die soektog na vermiste persone duur voort.