Dogter pleit skuldig op moord op haar pa

Lees ook :

Foto: NVG

LIMPOPO. – Mologadi Magdeline Mehlape (28) het in die Polokwane-hooggeregshof vir die moord op haar pa, dr. Malekutu Johannes Mehlape, op 28 Desember 2023 by sy huis buite Polokwane, skuldig gepleit, waarna sy skuldig bevind en gevonnis is. Die oorledene was ‘n kringbestuurder by die Limpopo-departement van onderwys.

Mashudu Malabi-Dzhangi, woordvoerder vir die Limpopo-NVG, sê Mehlape is op aanklagte van moord en roof met verswarende omstandighede skuldig bevind. Sy is vir moord tot lewenslange tronkstraf en roof ‘n addisionele 15 jaar gevonnis. Die vonnisse sal gelyktydig uitgedien word. Vier ander beskuldigdes – Tshepo Gabriel Ranoto (34), Hlologelo Klaas Mogotlane (34), Mahlodi Melida Mathole (34) en Michael Sello Molongoane (42) – het saam met Mehlape in die hof verskyn. Hulle staan op aanklagte van sameswering om moord te pleeg, moord, roof met verswarende omstandighede en die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie tereg. Die verhoor van hierdie beskuldigdes is van dié van Mehlape geskei en tot 20 Junie uitgestel.

Die hof het gehoor Mehlape het na bewering van Mogotlane, ‘n tradisionele geneser en ‘n medebeskuldigde, gehoor haar pa is deur die gebruik van moeti vir haar ma se dood verantwoordelik en het die moord op haar pa beplan. Nadat pogings misluk het om hom met tradisionele middele te vermoor, het Mehlape verskeie familielede genader om ’n huurmoordenaar te bekom. Sy het glo ook ingestem om R200 000 vir die moord te betaal.

Mehlape het op die aand van die voorval die hek en voordeur in Mankweng Sone 1 oopgesluit om die oortreders toegang tot haar pa se huis te gee. Die oorledene was in sy slaapkamer aan die slaap toe hy oorval, verskeie kere geskiet en van onder meer sy selfoon beroof is. Tydens inhegtenisnemings het die polisie in Mankweng op ’n Ford Ranger dubbelkajuitbakkie en ‘n vuurwapen in Zebediela, wat glo in die moord gebruik is, beslag gelê.

Mehlape het ter versagting vir haar familie verskoning gevra en genoem sy is die primêre versorger van haar babadogter en dat sy onopgeloste geskille met haar pa gehad het.

Muneiwa Ratshibvumo, die staatsadvokaat in die saak, het egter aangevoer dat die skulderkenning die gevolg was van oorweldigende bewyse eerder as ware berou. Sy het die moord as “grusaam en gevoelloos” beskryf en die hof versoek om die voorgeskrewe minimum vonnis op te lê.

Die NVG het die skuldigbevinding en vonnis verwelkom.

Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief