KWAZULU-NATAL. – Zamambo Siphokazi Mkhize (39), ‘n pediater verbonde aan die Harry Gwala-streekshospitaal in Pietermaitzburg, is Vrydagaand dood in haar motor se kattebak in Imbali aangetref.
Kol. Robert Netshiunda sê die Plessislaer-polisie ondersoek ‘n moordsaak nadat ‘n vrou dood in ‘n voertuig se kattebak aangetref is. Hy sê polisielede is na ‘n toneel waar ‘n vrou aangetref is met wat soos aanrandingsmerke en ‘n skietwond voorgekom het. Die motief vir die moord asook die verdagtes is onbekend, maar ‘n roof kan nie uitgesluit word nie.
Mkhize het nie na werk by die huis opgedaag nie en haar man het bekommerd geraak omdat sy nie haar foon geantwoord het nie. Sy het glo vroeër by die werk gery om een van haar kinders na ‘n hospitaal toe te neem. Haar man het toe glo met haar familie en die Tracker-opsporingsmaatskappy gepraat en haar daarna as vermis aangemeld.
Omstreeks 20:00 is haar verlate voertuig deur polisielede op die J18 in Imbali, drie kilometer van haar werk af, gevind. Haar lewelose liggaam met ‘n skietwond in die kop is in die kattebak gevind. Haar handsak en selfoon was vermis.
Bronne: SAPD, Phoenix Crime Awareness, Women For Change en Rea Gazette





