KWAZULU-NATAL. – ‘n Dokter, drie verpleegkundiges van die Port Shepstone-streekshospitaal en ‘n raadslid is deel van altesaam 110 beweerde dronkbestuurders wat gedurende die naweek, van Vrydag af, in Port Shepstone in hegtenis geneem is. Boonop word die dokter en ‘n polisiebeampte van die Port Shepstone-polisiekantoor vir ontsnapping uit wettige aanhouding aangekla.
Ndabezinhle Sibiya, woordvoerder vir die departement vir vervoer en menslike nedersettings, sê in ‘n verklaring Siboniso Duma, die LUR vir die departement, het die getal bekendgemaak. Duma sê daar is sedert 15 Augustus 399 persone in hegtenis geneem. Die dokter wat in hegtenis geneem is, word ook van ontsnapping uit wettige aanhouding aangekla en kan indien skuldig bevind ’n boete of ses tot tien jaar tronkstraf kry.
Duma het beklemtoon dat gesondheidswerkers ’n besonderse begrip behoort te hê van die las wat alkoholverwante padongelukke op ons gesondheidstelsel plaas. Meer as 60% van traumagevalle is direk aan padongelukke gekoppel. Die geskatte sosio-ekonomiese koste van padongelukke beloop sowat R164 miljard per jaar, ongeveer 3,4% van die nasionale BBP. In die 2022/23-boekjaar het die padongelukkefonds R22 miljard aan inkomsteverlies-eise uitbetaal.
Duma het lof uitgespreek vir die “hoogs doeltreffende, energieke en toegewyde wetstoepassingspanne wat volgens hom met die inhegtenisnemings lewens gered en gesinne beskerm het. Dit was die doel van die span om onverantwoordelike en roekelose bestuurders van die paaie te verwyder.
Hy het ook gesê die openbare ondersteuning van hierdie optrede is bemoedigend en dat die meerderheid van KZN se 12,5 miljoen mense saamwerk om hierdie klein minderheid van dronkbestuurders te isoleer.





