GAUTENG. – Drie mense is Maandagoggend in die Equestria-omgewing van Pretoria-Oos tydens ’n aanval deur ‘n hond beseer.
Volunteer Emergency Medical Response Unit (VEMRU) sê in ‘n sosialemediaplasing noodpersoneel is kort ná 10:30 ontbied nadat ’n oproep ontvang is oor verskeie persone wat deur ‘n hond aangeval is. Drie beseerdes is op die toneel aangetref, van wie een met kritieke beserings. Al drie is op die toneel gestabiliseer. Die kritiek beseerde persoon het gevorderde lewensondersteuning ontvang voordat hy na ’n nabygeleë hospitaal vervoer is.
Volgens VEMRU is die omstandighede van die aanval onbekend, maar dit blyk dat die hond eers sy eienaar en daarna twee werknemers aangeval het wat probeer het om in te gryp.
VEMRU het sy dank uitgespreek teenoor Black Eagle EMS, Emer-G-Med en Fun Cure EMS vir hul bystand op die toneel.
Tracey Grobbleaar het op sosiale media in die kommentaar die aanval op haar 5-jarige seun beskryf en gesê hond-aanvalle gebeur, al word ‘n hond nie uitgelok nie: (Vertaal van Engels na Afrikaans)
Mense, hierdie dinge gebeur. My kind het op ’n kombers by my vriendin se huis gesit, langs my en my vriendin, en prentjies geteken. Die volgende oomblik hardloop hul hond verby en begin hom aanval waar hy stil gesit het.
Ek en my vriendin het net langs my seun gesit en gesels. Haar dogter en my dogter het stil op ons skote gesit.
Nee, hy het nie die hond uitgelok nie.
Nee, ons het nie hard gepraat of lawaai gemaak nie, die kinders het nie geskree of gehuil of rondgehardloop nie – nie toe of vroeër nie.
Nee, hy het die hond nie seergemaak nie, toe of voorheen nie (dit was die eerste keer wat ons hulle besoek het sedert hulle die hond as ’n hondjie gekry het. Die hond was toe drie jaar oud. Ons was net tien minute daar, my seun was geen oomblik voor die aanval buite my sig nie. My seun was vyf jaar oud).
Nee, die hond is nooit voorheen mishandel nie.
Nee, die hond het nooit voorheen enige tekens van aggressie getoon waarvan hulle bewus was nie.
Nee, die hond het nie geblaf, gegrom of enige teken gegee dat hy ontsteld was vanaf ons aankoms tot die aanval nie.
Nee, dit was nie ’n pitbull nie, dit was ’n suiwer Rottweiler. Ek het grootgeword met Rottweilers, ek ken hul geaardheid en is lief vir die ras.
Ja, die hond was gewoond aan kinders, want hulle het self kinders gehad, maar selfs al was hy nie, het my seun hom nie gepla of interaksie met hom gehad nie.
Ja, die hond is professioneel afgerig toe hulle hom as hondjie gekry het.
Tot vandag toe weet ons nie wat die hond daardie dag getrigger het nie. Die enigste ding waaraan ek kan dink, is dat daar ’n motor verbygekom het en getoet het… Die enigste ding wat ek kan voorstel, is dat die hond geskrik het vir die geluid en gereageer het. Miskien was dit so, miskien nie. Die feit bly staan: die hond het net skielik ’n onskuldige kind aangeval.
Mense sê altyd: “Geen hond sal sommer net aanval nie.” Ek praat uit ervaring – DIT GEBEUR.






