KWAZULU-NATAL. – Drie busse met politieke ondersteuners was Sondagoggend onderweg na ‘n saamtrek in Durban op die N2 naby Brug 14 tussen Gingindlovu en Amatikulu in ‘n ongeluk betrokke. Altesaam 36 insittendes is in die ongeluk beseer.
Samantha Meyrick, woordvoerder vir IPSS Medical Rescue en IPSS Search & Rescue, sê verskeie oproepe is oor die ongeluk ontvang en met aankoms is verskeie insittendes vasgekeer en nog wat beseer is, aangetref na die drie busse gebots het. Addisionele hulp is na die toneel ontbied.
Landelike metrobrandweerdienste het die vasgekeerde passasiers bevry, terwyl mediese personeel die beseerdes behandel het.
Meyrick sê gevorderde lewensondersteunende beamptes van IPSS Medical Rescue het agt ernstig beseerdes gestabiliseer en na hositale vervoer. Verskeie ander nooddienste het die res van die passasiers behandel en vervoer.
Die ongeluk het die verkeer op die N2 nadelig beïnvloed.





