KWAZULU-NATAL. – Drie verdagtes is dood toe ‘n skietery Woensdag tussen hulle en privaat veiligheidsbeamptes in Mandosi in die Richmond-area uitgebreek het.
Kol. Robert Netshiunda sê die polisie ondersoek drie sake van moord nadat die verdagtes, wat van geweldsmisdade en veediefstal verdink word, in ‘n skietery dood is. Die drie verdagtes het glo vroegoggend beeste in die Nhlakuza-area gesteel en was besig om te slag toe hulle deur lede van die gemeenskap betrap is. Die verdagtes het skote geskiet en sonder hulle voertuig van die toneel gevlug.
Netshiunda sê volgens verdere rapportering het privaat veiligheidswagte later die verdagtes langs ‘n voertuig op ‘n plaas in Mid-Illovo opgemerk. Die verdagtes is genader en het op die veiligheidswagte geskiet terwyl hulle weggejaag het.
“‘n Veiligheidswag het na bewering skietwonde aan die arm en been opgedoen. Die verdagtes het uit die voertuig gespring en te voet gevlug.”
Tydens ‘n soektog na die verdagtes is hulle by ‘n huis in die Mandosi-area gevind waar hulle weggekruip het.
“‘n Skietery tussen die veiligheidswagte en die verdagtes het uitgebreek, waartydens al drie die verdagtes noodlottig gewond is. Twee AK47-aanvalsgewere en ‘n pistool is in hulle besit gevind.”
Buiten die drie moordsake wat ondersoek word, ondersoek die Mid-Illovo-polisie ‘n saak van poging tot moord vir die beseerde veiligheidswag.





