KWAZULU-NATAL. – ‘n Beskuldigde (33) is tot drie keer lewenslank en addisioneel 10 jaar in die Pietermaritzburg-hooggeregshof gevonnis, nadat hy skuldig gepleit het op die moord op sy lewensmaat, hulle 3-jarige dogter en nog ‘n man op 9 September 2023. ‘n Gewonde dogter (2) het oorleef.
Natasha Ramkisson-Kara sê die man, wat vir ‘n sekuriteitsmaatskappy gewerk het, het getuig hy is op die betrokke dag na die Nhlalakahle-area waar sy lewensmaat (28) en hulle twee kinders bly, om klere vir sy kinders te gee. ‘n Argument het ontstaan waartydens sy lewensmaat glo ‘n verhouding met ‘n ander man (26), haar gewese kêrel, erken het.
Die beskuldigde het volgens sy getuienis sy dienswapen uitgehaal en sy lewensmaat, asook hulle twee kinders, geskiet. Daarna is hy glo na die gewese kêrel se huis waar hy hom doodgeskiet het. Die beskuldige het hierna selfdood probeer pleeg, maar het in ‘n hospitaal wakker geword nadat hy sy bewussyn verloor het.
‘n 3-jarige, haar ma en ‘n man is noodlottig gewond, terwyl die 2-jarige na ‘n hospitaal gehaas is en die skietvoorval oorleef het.
Adv. Mobngeni Mthembu vir die staat het slagofferimpak-verklarings van familielede aan die hof oorhandig. Die oorlede vrou se familie het haar as ‘n hardwerkende en gawe persoon, wat na haar familie omgesien het, beskryf. Die familie ontvang berading na die traumatiese skietvoorval in hulle huis.
Die beskuldigde is skuldig bevind en op elk van die moorde lewenslank gevonnis, asook 10 jaar vir die poging tot moord op sy 2-jarige dogter. Hy sal dus effektief lewenslank in die tronk deurbring.
Die NVG verwelkom die vonnis in die stryd teen geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord.





