Drie mans sterf in helikopterongeluk naby Daniëlskuil

Lees ook :

Foto: Kalahari Memorandum Digital en Duncan Gillespie

NOORD-KAAP. – ‘n Vlieënier en twee passasiers van ‘n Alouette-helikopter met registrasienommer ZU-RAL het Sondag omstreeks 12:00 gesterf toe dit naby Daniëlskuil neergestort het.

Sisa Majola, burgerlugvaartowerheid-woordvoerder, sê in ‘n verklaring die helikopter was op pad van Elandsvlakte na Olifantshoek toe dit in die Kurumanheuwels in Daniëlskuil neergestort het. Die impak het beduidende skade aan die helikopter veroorsaak en ’n brand ná die ongeluk het dit geheel en al vernietig.

“Ondersoekbeamptes is na die toneel gestuur en ’n voorlopige verslag sal binne 30 dae ná die ongeluk op die SACAA-webtuiste gepubliseer word,” sê Majola. Burgerlugvaart het sy medelye aan die families en vriende van die oorledenes betuig.

Kol. Cherelle Ehlers, polisiewoordevoerder, sê in ‘n verklaring die helikopterongeluk waartydens die drie mans, tussen 23 en 34 jaar, omstreeks 12:00 tussen Daniëlskuil en Kuruman gesterf het, word deur die Daniëlskuil-polisie ondersoek. Die polisie het geregtelike doodsondersoekdossiere geopen.

Die oorledenes is deur Duncan Gillespie op sosiale media as Anlo Ferreira, dr. Alwyn Venter en Anglo Robbertse, geïdentifiseer.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief