MPUMALANGA. – Sam Khosa (40), Solly Bennett Selahle (30), asook Oddis Maluleke (46), ‘n Mosambieker, is vir renosterstropery in die Kruger Nasionale Park in die Skukuza-streekhof gevonnis.
Brig. Donald Mdhluli sê ‘n streekveldwagter het op 15 Februarie 2019 verdagte aktiwiteite deur die beskuldigdes opgemerk. Daar is gesien hoe Phillip Gumede, ‘n ander veldwagter, wat intussen gesterf het, twee passasiers in ‘n voertuig vervoer en met ‘n vierde persoon, (Selahle), ontmoet. Hulp is van rolspelers, wat SANParke met ‘n helikopter, die polisie, hondehanteerders en die weermag insluit, ontbied. ‘n VW Polo en ‘n Hyundai is tussen Skukuza en die Krugerhek voorgekeer. ‘n Jaggeweer en ammunisie, ‘n renosterhoring, twee messe en klere is tydens deursoeking in die Hyundai gekry.
Die vier verdagtes is gearresteer en daar is op die voertuie beslag gelê. Die vier verdagtes is in die Bosboklaagte-distrikshof borg toegestaan, waarna die hofsaak in die Skukuza-distrikshof voorgekom het. Gumede het intussen gesterf en slegs drie verdagtes het verder in die hof verskyn.
Khosa en Maluleke is op aanklag 1 – betreding in die nasionale park – tot twee jaar, op aanklag 2 – oortreding van die immigrasiewet – nie skuldig nie, op aanklag 3 – besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen – vyf jaar, op aanklag 4 – besit van ‘n vuurwapen met die doel om ‘n misdaad te pleeg – vier jaar, op aanklag 5 – besit van ‘n onwettige vuurwapen waarvan die reeksnommer verwyder is – ses jaar, op aanklag 6 – sameswering om ‘n misdaad te pleeg – vier jaar, op aanklag 7 – onwettige jag van renosters – 10 jaar, op aanklag 8 – die besit van ongelisensieerde ammunisie – twee jaar, en op aanklag 9 – die besit van ‘n gevaarlike wapen – een jaar tronkstraf gevonnis. Die vonnisse op aanklagte 3, 4, 8 en 9 sal gelyktydig met aanklag 5 uitgedien word, wat beteken hulle sal 22 jaar in die tronk deurbring.
Mdhluli sê Selahle is op aanklag van samewering om ‘n misdaad te pleeg tot vier jaar tronkstraf gevonnis.
Monica Nyuswa, woordvoerder vir die NVG, sê Odis Maluleke is gevonnis op oortreding van die immigrasiewet. Gumede, ‘n vorige veldwagter, het in die gimasium gewerk en het twee verdagte persone met vervalste permitte in die park ingebring. ‘n Renoster is doodgemaak, waarna hulle na die gimnasium is om ander klere aan te trek. Silahle het apart opgedaag om hulle met ‘n voertuig op te tel. Die verdagte omstandighede het tot die deursoeking, arrestasie en konfiskering gelei.
Gumede het tydens borg, voordat die hoor kon begin, gesterf. Die drie beskuldigdes het onskuldig gepleit, maar die staat het sy saak met onder meer beeldmateriaal en DNS-bewyse, bewys. Die koeëlpunt wat in die renoster gekry is, is met die vuurwapen wat gekonfiskeer is, geskiet.
Al drie die beskuldigdes is onbevoeg verklaar om vuurwapens te besit.





