Drie sterf, 27 beseer toe skoliervervoer, bakkie en vragmotor bots

Lees ook :

Foto: Mpumalanga Department of Community Safety, Security and Liaison

MPUMALANGA. – Drie persone, onder wie ‘n leerling, die bestuurder en die passasier van ‘n bakkie, het gesterf toe drie voertuie vanoggend op die D2296 tussen Karino en Mbombela met mekaar gebots het.

Moeti Mmusi, woordvoerder vir die departement van gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling in die provinsie, sê ‘n minibus, bakkie en vragmotor was in die ongeluk betrokke. Motoriste kan die N4-tolpad gebruik om na en van Mbombela te reis omdat die D2296 tussen Karino en Mbombela tans gesluit is.

Die minibus het leerders na verskeie skole in Mbombela vervoer. Altesaam 26 leerders en die bestuurder van die minibus het ligte tot ernstige beserings opgedoen.

“Hulle is vir behandeling na nabygeleë hospitale gehaas.”

Jackie Macie, die LUR vir die departement, het medelye aan die families van die oorledenes betoon, asook spoedige beterskap vir die beseerdes in die hospitale toegewens.

Die LUR is bekommerd oor die aantal ongelukke waarin leerders beseer word en sê daar is ‘n probleem wat dringend aangespreek moet word.

“Ons kan nie voortgaan om jong, onskuldige mense op ons paaie weens roekeloosheid te verloor nie. Dit moet tot ‘n einde kom,” sê Macie.

“Alhoewel die oorsaak van die ongeluk nog deur ondersoeke vasgestel moet word, word daar vermoed dat onveilige verbysteek die oorsaak kon wees.”

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App