MPUMALANGA. – Drie verdagtes is Woensdag in hegtenis geneem in verband met die ontvoering, kaping en moord op Sam Thabiso Maimela (60), ’n onderwyser van Kwaggafontein wat Vrydag omstreeks 23:00 laas gesien is. Sy liggaam is later in ’n afgesonderde gebied naby Gemsbokspruit aangetref.
Volgens brig. Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder in Mpumalanga, het Maimela ná skool met sy Haval-voertuig huis toe gery. Net toe hy by sy woning wou ingaan, is hy glo deur drie mans – tussen 23 en 34 jaar oud – oorval en met geweld ontvoer. Oproepe deur sy familie na sy selfoon het geen reaksie ontlok nie.
Die polisie is kort daarna van die verdwyning in kennis gestel en ’n intensiewe soektog is van stapel gestuur. Ondersoekers van verskeie eenhede het onverpoos gewerk om leidrade op te spoor. Reeds Saterdag is Maimela se voertuig en opsporingstoestel in KwaMhlanga gevind. Hy was egter steeds vermis.
Deurbrake in die ondersoek het uiteindelik tot die arrestasie van drie verdagtes gelei. Tydens ondervraging het dit geblyk dat Maimela vermoor is en dat sy liggaam by Gemsbokspruit naby Tweefontein agtergelaat is. Die terrein is saam met forensiese spanne deursoek en die liggaam is later op die toneel gevind.
’n Nadoodse ondersoek sal bepaal wat presies tot die onderwyser se dood gelei het, hoewel daar vermoed word dat hy geskiet is. Die motief vir die misdaad is nog nie vasgestel nie en vorm deel van die voortgesette ondersoek.
Die drie verdagtes sal binnekort in die Kwamhlanga-landdroshof verskyn.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





