KWAZULU-NATAL. – Drie verdagtes het noodlottige skietwonde opgedoen toe hulle Saterdagmiddag met die polisie in Bhambayi in Inanda in ‘n skietery betrokke was.
Kol. Robert Netshiunda sê die polisie het inligting van verdagtes wat op verskeie aanklagte van moord in Inanda en Umlazi gesoek word, ontvang en opgevolg. Vyf verdagtes is in ‘n huis vasgekeer en het met die teenwoordigheid van die polisie glo begin skiet. Die polisie het teruggeskiet, waartydens drie verdagtes dood is.
Twee verdagtes wat sonder beserings ontsnap het, word gesoek.
Netshiunda sê volgens vermoede was die verdagtes verantwoordelik vir vier onlangse moorde, insluitend dié van twee polisiekonstabels van diens af, asook die poging tot moord van vier persone by ‘n kroeg in Sudumbili op 4 Januarie.





