Drie wat polisielede aanval doodgeskiet

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie Canva

OOS-KAAP. – Drie verdagtes is Woensdagmiddag omstreeks 16:30 in Mthatha tydens ‘n skietery met die nasionale intervensie-eenheid van die polisie doodgeskiet.

Lt.kol. Siphokazi Mawisa sê die lede was net klaar met ‘n operasie en onderweg na hulle basis toe hulle opmerk hulle word deur ‘n Nissan Qashqai en ‘n Toyota Fortuner agtervolg. Met aankoms by die eenheid se perseel het die verdagte voertuig agter hulle gestop, die insittendes het met vuurwapens uitgespring en op die polisielede geskiet. Die polisielede het teruggeskiet en al drie die verdagtes noodlottig gewond.

‘n Adjudant-offisier, in sy 40’s, het ‘n skietwond opgedoen en is vir mediese behandeling na ‘n hospitaal gehaas.

Mawisa sê een van die oorledenes is as Sakhumzi Mareke (42) geïdentifiseer. Hy was ‘n persoon van belang in verskeie insidente van afpersing in die Mthatha-area.

“’n Saak van poging tot moord is vir verdere ondersoek geopen. ’n Geregtelike doodsondersoekdossier is ook geopen en sal vir verdere hantering na die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) oorgeplaas word.”

Drie vuurwapens en ammunisie is op die toneel gekonfiskeer.

“Dit is een van die ergste vorme van aanval op die polisie. Die voorval is skokkend en veragtelik. Lede word versoek om te alle tye waaksaam te wees en moet altyd veiligheidsmaatreëls in ag neem en operasioneel gereed wees,” sê lt.genl. Nomthetheleli Mene, die provinsiale kommissaris van die provinsie.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App