NOORDWES. – ‘n Vroulike motoris (29) sal vandag op aanklag van strafbare manslag en die bestuur onder die invloed in die Brits-landddroshof verskyn. ‘n Ma en baba is ernstig beseer en ‘n meisie het tydens ‘n insident met dié motoris gesterf.
Kol. Adéle Myburgh sê volgens inligting het ‘n swart Amarok-bakkie in Simon Bekker-rylaan in Kosmos, in Hartbeespoortdam, teen ‘n ma (22) en haar twee kinders vasgery. Die vyfjarige is op die ongelukstoneel dood verklaar, terwyl die ma met ernstige kopbeserings en ‘n babameisie in ‘n ernstige toestand in ‘n hospitaal opgeneem is.
Die verdagte is Kersmiddag deur Hartbeespoortdam-polisie gearresteer en dadelik van strafbare manslag en die bestuur onder die invloed van alkohol of ‘n dwelmmiddel wat ‘n narkotiese effek het, aangekla.
Hartbeespoort Emergency Medical Services (HEMS) sê die slagoffers het langs die pad gestaan. Die ma het die baba vasgehou en die ouer kind was langs haar, toe die ongeluk gebeur het. HEMS sê die kritiek beseerde ma is op die toneel behandel, voordat sy vir vir verdere mediese hulp na ‘n hospitaal in Brits vervoer is. Sy is later na ‘n hospitaal in Pretoria oorgeplaas. Die baba is ook vir behandeling na ‘n hospitaal geneem.
Volgens HEMS was die impak so erg dat die kind se lewe ten spyte van pogings nie gered kon word nie.







