LIMPOPO. – Vanaf 1 Desember tot en met Saterdag is 70 bestuurders vir beweerde dronkbestuur in die provinsie aangekeer.
Die departement van vervoer en gemeenskapsveiligheid sê in ‘n verklaring in die Mopani-distrik is 29, in die Capricorn- en Vhembe-distrikte onderskeidelik 16 en 13, die Waterberg-distrik 10 en in die Sekhukhune-distrik twee inhegtenisnemings gemaak. Van die bestuurders het glo die toegelate perk van ‘n blaastoets oorskry. Terwyl 0,24 mg alkohol van 1 000 mg toelaatbaar is, het een van die bestuurders 2,29 mg. getoets.
Die departement is bekommerd oor die aantal dronkbestuurders op paaie en die tendens om dronk te bestuur, veral tydens naweke terwyl ander onskuldige padgebruikers se lewens in gevaar gestel word.
Bestuurders wat drink, word aangeraai om van taxi’s of ‘n aangewysde nugter bestuurder en ander veilige vervoer gebruik te maak. Dronkbestuur is ‘n keuse en indien jy nie die vakansie in die tronk wil deurbring nie, word bestuurders gemaan om hulle nie aan die misdaad skuldig te maak nie.





