KWAZULU-NATAL. – Baphumelele Zulu (24) is deur die Ixopo-streekhof tot twee keer lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op twee gr. 12-skoolmeisies, beide 18 jaar oud, op 30 Julie 2022. Hy is ook addisioneel tot ’n verdere agt jaar tronkstraf vir ontsnapping uit wettige aanhouding gevonnis.
Natasha Ramkisson-Kara, NVG-woordvoerder, sê in ‘n verklaring Amanda Zulu en Minenhle Buthelezi het in ’n huis op ’n plaaslike erf in die Ngwagwane-gebied naby Creighton gebly om nader aan hul skool te wees. Op die betrokke aand is hulle by die huis aangeval. Amanda is bloeiend buite die huis aangetref en hospitaal toe geneem waar sy later aan haar beserings beswyk het. Minenhle se liggaam is later in ’n sloot in ’n nabygeleë veld gevind. Albei is met ’n onbekende voorwerp teen die kop aangerand.
Zulu is in hegtenis geneem nadat ’n familielid hom aan die polisie oorhandig het. Staatsaanklaer Siphosenkosi Dlamini het tydens die hofverrigtinge die getuienis van inwoners op die erf gelei, asook DNS-bewyse aangebied. Twee polisielede het ook getuig oor die uitwysing van Zulu. Gedurende hierdie proses het Zulu uit aanhouding ontsnap, maar is ure later weer in hegtenis geneem.
In verswarende getuienis het lede van die slagoffers se families aan die hof verduidelik hoe die moorde hul lewens geraak het. Amanda se pa het getuig dat die hele familie erg geraak is, terwyl Minenhle se tante gesê het haar ouma, wat haar grootgemaak het, is diep geskok en het sedertdien siek geword. Albei families het gesê hulle verstaan nie die motief nie en dat Zulu geen berou getoon het nie.
Zulu is lewenslank vir elke moordklag en agt jaar vir ontvlugting gevonnis. Hy sal ’n effektiewe vonnis van lewenslange gevangenisstraf uitdien.





