Brekende Nuus
Afrikaans

Dubbelmoord by elektriese substasie

Beide die wag en vermeende aanvaller het noodlottige skietwonde opgedoen.

Dubbelmoord by elektriese substasie
Foto: Ter illustrasie Canva

VRYSTAAT. – ‘n Sekuriteitsbeampte en ‘n onbekende verdagte is Vrydag omstreeks 20:00 binne die omheinde erf van ‘n elektriese substasie naby Motastraat in die Sebokeng-woonbuurt doodgeskiet.

AO Mmako Mophiring sê twee sekuriteitswagte wat aan diens was is deur onbekende gewapende verdagtes oorrompel. Terwyl een van die verdagtes een wag deursoek het, is sy makker na die ander wag toe. Daar is na bewering skote afgevuur waarna ‘n doodse stilte gevolg het.

Die eerste wag, wie se selfoon gebuit is, het hom na die ander wag gehaas waar hy en die onbekende verdagte beide met noodlottige skietwonde gelê het. Die sekuriteitswag is in sy maag geskiet en die onbekende verdagte in sy mond.

Nooddienste en die polisie is deur die oorlewende wag ontbied. Beide die oorledenes is op die toneel dood verklaar.

‘n Dubbelmoord waarvan die motief onbekend is word ondersoek en enigiemand met inligting met betrekking tot die insident word gevra om Namahadi-speurtak by 082 972 8678 te bel.