MPUMALANGA. – Low’s Creek-polisie ondersoek ‘n dubbelmoord in Sheba Siding, nadat ‘n man buite sy huis en ‘n buurvrou in haar huis doodgeskiet is.
Lt.kol. Jabu Ndubane sê die insident het Woensdag omstreeks 14:30 gebeur. Na bewering het twee mans die oorledene (40) tot agter sy huis gevolg. Skote is gehoor. Die oorledene is getref en die twee mans is met vuurwapens opgemerk.
‘n Individu wat in die oorledene se huis was, het reageer en met sy gelisensieerde vuurwapen in ‘n skietery met die verdagtes betrokke geraak. Hy kon van die verdagtes ontsnap deur oor ‘n heining te spring. ‘n Buurvrou (47) in haar huis het die skote gehoor en het deur ‘n venster probeer loer, toe sy doodgeskiet is. Die individu het teruggekeer en beide die man en vrou dood aangetref. Beide is deur nooddienste op die toneel dood verklaar.
Die polisie het ‘n saak met twee aanklagte van moord geopen. Koeëldoppies sowel as lewendige ammunisie is vir verdere ondersoek op die toneel gekonfiskeer. Geen arrestasies is gemaak nie en die polisie soek na die verdagtes.
Enigiemand met relevante inligting word gevra om speur. sers. George Mazibuko by 082 546 2039 te bel.