Duisende leerlinge gestrand weens skoliervervoer-staking

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie Canva

OOS-KAAP. – Duisende leerlinge in dié provinsie was Maandagoggend gestrand toe skoliervervoer-operateurs gestaak het, nadat hulle glo vir maande nie deur die departement van vervoer betaal is nie. Die staking, wat saamval met die begin van die nuwe skoolkwartaal, beklemtoon die totale ineenstorting van die provinsie se skoliervervoer-stelsel.

Horatio Hendricks, die DA se skaduwee-LUR vir onderwys, sê in ‘n verklaring baie kinders is gedwing om lang afstande skool toe te stap of om terug te keer huis toe. Vir gesinne in landelike gebiede wat van hierdie diens afhanklik is, is dit nie net ’n ongerief nie; dit is ’n direkte aanval op hul grondwetlike reg om te leer. Die DA waarsku reeds jare dat die skoliervervoer-program op die rand van mislukking is. Onvermoë om operateurs te betaal, voertuie padwaardig te hou en leerlingverifikasie korrek te bestuur, het hierdie krisis veroorsaak. Die departement se eie verslae toon miljoene rande aan uitstaande betalings. Baie operateurs kon nie voertuiglisensies hernu, brandstof koop of basiese veiligheidstandaarde handhaaf nie.

’n Mosie is deur die DA by die Oos-Kaapse wetgewer ingedien wat ’n dringende nakomingshersiening van die Makhanda-hooggeregshofbevel oor skoliervervoer afdwing. Die doel is om betekenisvolle hervormings te bewerkstellig en te verseker dat kinders nie langer aan die kant van die pad wag nie. Die DA sê dit bly verbind tot die herstel van waardigheid en geleenthede vir elke leerling in die Oos-Kaap. Dit kan nie langer deur die provinsiale regering toegelaat word dat kinders se onderwys weens wanbestuur in gedrang kom nie.

Die Oos-Kaapse departement van vervoer het intussen ‘n sosialemediaplasing gemaak en ‘n video gedeel: “Ons werk dag en nag om die probleem van vertragings in skoliervervoer-betalings op te los en om die diens te herstel.”

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief