MPUMALANGA. – Duitse toeriste is Dinsdag omstreeks 11:40 op die R35 tussen Barberton en Badplaas deur drie verdagtes aangeval. ‘n Verdagte (42) is in hegtenis geneem.
Kapt. Dineo Sekgotodi, woordvoerder vir die Valke, sê die paar het in ‘n gehuurde Toyota Cross gery toe ‘n donkerkleurige VW Polo langs hulle ingetrek het en ‘n skoot afgevuur het wat die bestuurder in sy hand getref het. Die toeriste het stilgehou, waarna die drie verdagtes hulle met vuurwapens gedreig en van verskeie besittings, insluitend ‘n internasionale bestuurderslisensie, beroof het. Die aanvallers het daarna in die rigting van Barberton gevlug.
Inligting is Donderdag opgevolg, waarna ‘n verdagte met gesteelde eiendom van die toeriste in sy besit gearresteer is. Die verdagte is aangekla en sal Maandag vir poging tot moord en gewapende roof in die Barberton-landdroshof verskyn.
Die polisie soek nog na die ander twee verdagtes.
Enigiemand met inligting kan speur.AO Elbert de Lange by 071 481 2815 bel.





