OOS-KAAP. – Dwelmhandel is ’n groot slag toegedien toe die Gqeberha-hoofwegpatrollie Donderdag dwelms met ’n geskatte straatwaarde van sowat R28,7 miljoen in die Coega-nywerheidsgebied onderskep het. Drie verdagtes, tussen 35 en 38 jaar oud, is in hegtenis geneem.
Kapt. Sandra Janse van Rensburg, polisiewoordvoerder, sê lede van dié eenheid was op die M17-pad in Coega met roetine-patrollering vir die voorkoming van misdaad besig, toe hulle ‘n wit Toyota RAV4 wat langs die pad gestaan het, opmerk. Twee mans is betrap terwyl hulle groot sakke uit die bosse na die voertuig gedra het. Met verdere ondersoek is drie groot pakke dagga en bokse vol kristalmetamfetamien (tik) en kokaïen in die voertuig gevind.
Die dagga het sowat 164 kg geweeg, met ’n geskatte waarde van meer as R21,3 miljoen. Die kristalmetamfetamien (ongesny) met ’n massa van 10,1 kg, het ’n waarde van ongeveer R2,28 miljoen, terwyl die kokaïen 2,1 kg geweeg het en sowat R5 miljoen werd is. Klaarblyklik het die bestuurder geen kennis van die dwelms in die voertuig gedra nie.
Die drie verdagtes sal binnekort op aanklagte van die besit van en handel in dwelms in die Motherwell-landdroshof voorkom. Die polisie vra die gemeenskap weer om verdagte bedrywighede wat met dwelmhandel verbind kan word, aan te meld.





