GAUTENG. – Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) is ontsteld oor die uitlek van ’n eedverklaring van een van die staatsgetuies in die saak teen Shepherd Bushiri en sy medebeskuldigdes. Bushiri is die stigter en geestelike leier van die Enlightened Christian Gathering International Church.
Lumka Mahanjana, NVG-woordvoerder, sê die uitgelekte verklaring vorm deel van die saakdossier wat aan die verdediging verskaf is, om vir die verhoor voor te berei. Dit kan die staat se saak benadeel en die lewe van die getuie in gevaar stel. Die getuie se volle besonderhede en ’n foto is in die media gepubliseer. Hoewel die verhoor oorspronklik op 14 Oktober 2024 sou begin het, is dit verskeie kere weens interdik-aansoeke deur sommige van die beskuldigdes vertraag. Geen van die aansoeke was suksesvol nie. Die staat het deurgaans sy gereedheid om met die saak voort te gaan, gehandhaaf.
Die NVG het ’n beroep op die media gedoen om verantwoordelik op te tree en nie die regte van getuies in die gedrang te bring nie. Die saak is vir verhoor op 4 Augustus 2025 op die rol geplaas.
Bushiri en sy vrou is op 1 Februarie 2019 deur die Valke vir beweerde bedrog, geldwassery en oortreding van die wet op die voorkoming van georganiseerde misdaad in hegtenis geneem. Die oortredings, wat na bewering vanaf 2015 gepleeg is, sluit onder meer die beweerde onwettige hantering van buitelandse valuta ten bedrae van $1 147 200 in. Die Bushiri’s is op 6 Februarie 2019 elk op R100 000 borgtog vrygelaat met streng reëlings rakende reis en kontak met getuies.
Die saak is sedertdien herhaaldelik uitgestel, onder meer om regsverteenwoordigers – insluitend adv. Barry Roux – kans te gee om vertoë aan die NVG te rig. Tussen 2019 en 2020 het verskeie nuwe aanklagte en medebeskuldigdes na vore gekom. Die NVG het ook in 2019 aansoek gedoen vir die verbeuring van Bushiri se Gulfstream-vliegtuig, maar die aansoek is van die hofrol verwyder.
Op 20 Oktober 2020 is die Bushiri’s weer op nuwe aanklagte in hegtenis geneem. Hulle is weens die gevaar dat hulle kan vlug nie op borg vrygelaat nie, nadat daar bewerings was dat hulle ’n Bentley en Maserati onwettig na Malawi uitgevoer het. Op 14 November 2020 is berig dat hulle Suid-Afrika verlaat het en na Malawi gevlug het.
Hulle is op 18 November 2020 in Malawi in hegtenis geneem, maar kort daarna weens ‘n ongeldige inhegtenisneming weer vrygelaat. Hulle is die week daarna weer in hegtenis geneem en hulle uitleweringsaak aan Suid-Afrika duur voort. In Februarie 2022 het die Malawi-hooggeregshof besluit om die saak vir ‘n uitspraak oor uitlewering na die landdroshof te verwys.
Bronne: NVG en Wikipedia




